Monday, January 28, 2008

5 Jan 2008 - Amptelike verklaring van Gustav Müller aan die Suidlanders

Amptelike verklaring van Gustav Müller aan die Suidlanders

As gevolg van baie debatte en besprekings en in sommige gevalle selfs swartsmeerdery het ons as Suidlanders dit nodig geag dat ek (Gustav) `n amptelike verklaring opsluit uitreik oor wie en wat ’n Suidlander is, dat u opnuut kan besluit of u hierdie sentiment deel.

Die naam ‘Suidlander’ het sy oorsprong in die naam Suidland. Met die stigting van Suidland–Aksie ’n paar jaar gelde het ek en talle vriende ons gaan afsonder in vas en gebed in die Bosveld (Mabothe) vir drie dae lank om leiding van ons Vader in die hemel te vra. In hierdie drie dae het ons baie Skrifte ontvang, maar twee Skrifte het uitgestaan, die eerste Skrif kom uit Jeremia 13. U kan dit gaan lees (die woord Suidlanders kom daarin voor); hier het die hemelse Vader vir ons gesê wat die toestand van die Boervolk is en dat ons dit aan hulle moet bekend maak, en hulle roep tot ’n hartsbekering en nie tot ’n bekering van die lippe nie. Die Woord sê ‘aan die vrug van die boom sal jy die boom ken’, en ek het toe landswyd begin ry en sowat 55 000 km afgelê om die boodskap van bekering uit te dra. Sommige kerke het my genooi om selfs dienste op Sondae te hou; verder is daar huis- en openbare vergaderings gereël waartydens van die ‘vrugte’ wat die Boervolk nie meer gedra het nie, aan hul bekend gemaak is.
Van die `verdorde vrugte` was byvoorbeeld:
1) Ons volk se Sabbatontheilig.
2) Ons motors wat die parkeerplekke by die dobbelhuise (afgod van Astartis) volstaan.
3) Die sportafgod.
4) Geld (Mammon) en status voor wie ons ook die knie gebuig het, en
5) Die afgod van wellus wat met oorgawe gedien word, ens., ens., ens...

Die tweede Skrif was Eseg. 20:45-49. (Dit is `n profesie oor die toekoms). Die woord Suidland kom drie keer hierin voor, ons het die Skrif die derde dag ontvang, en watter belewenis was dit nie om tussen daardie bosse te sit en verse 46 en 47 te lees nie! Daar is soveel wonderbaarlike getuienisse wat in daardie drie dae afgespeel het, en ek hoop en vertrou ek sal dit eendag te boek kan stel, want dit is te veel om in hierdie kort verklaring op te neem. En daar in afsondering het die Suidlanders hul naam gekry. Kort daarna is `n stigtingsvergadering te Villiers gehou met 12 raadslede van oor die hele land.
Met my reis deur die land is ons eerste publikasie, ‘Brandwag vir die Suidland’ versprei, en daarin is ’n oproep gedoen dat ons ons voor die Almagtige Vader moet neerbuig. Ek het kopieë van hierdie publikasie in boekwinkels geplaas om gratis uit te deel, en waar ek toestemming kon kry, dit ook op winkeltoonbanke gelaat. Ongeveer `n jaar lank het ek hierdie bekeringsboodskap uit gedra totdat ek een oggend op pad van Durban af terug Vereeniging toe was. Daardie oggend het ek tot die Here gebid dat as Hy nie wil hê ek moet langer hiermee voortgaan nie, Hy iets groots moet laat gebeur sodat ek dit kan “weet”. (En nou waarsku die Bybel ook dat mens versigtig moet wees wat jy vra, want jy kan dit dalk kry). Ongeveer 19H00 daardie middag beland ek in so groot ongeluk dat my motor totaal afgeskryf moes word, maar deur die Genade het ek nie ’n skrapie opgedoen nie. Hierna het ek ernstig tot die Vader gebid en gevra wat moet ek nou doen, want dit het gevoel of die Leiding stilgeraak het. Daardie aand maak ek my Bybel oop en lees dat ek my lewe moet geniet saam met die vrou wat ek lief het. So gesê so gedaan. Ongeveer ’n jaar het verbygegaan voordat die Here my baie ernstig en dringend opgeroep het om weer ’n
boodskap aan die volk uit te dra. Hierdie keer was dit ’n kombinasie van die bekeringsboodskap (wat die primêre doel van Suidlanders is) en die waarskuwing oor die fisiese gevaar wat ons volk bedreig en wat besig was om sy verskyning op die horison te maak, nl. Uhuru. (Uhuru was die instrument wat God sou gebruik om Sy toorn oor ’n afvallige volk te laat kom). Met hierdie boodskap het ek in 2006 begin en was DVD’s 1,2 en 3 in 2007 die afsluiting. Teen die einde van 2007 het ek die Here weereens gevra wat moet ek nou doen, want daar het weer ’n stiltetyd aangebreek. Toe gee die Here vir my die volgende skrifte Eseg. 24: 26-27 en Habakuk 3:6. Sedertdien hou ek nie meer vergaderings nie, maar help net waar ek kan met reëlings rondom die beveiliging van ons mense.

Definisie van `n Suidlander:

In kort is ’n Suidlander ’n gelowige volksgenoot wat besef en erken dat ons die weë van van die Here as `n volk verlaat het (Jer13). Uit die kennis wat ons uit die Skrif ontvang, weet ons dat die toorn van God teen hierdie mooi land kan ontketen. (Eseg. 7, Jes. 30 en Habakuk 3:16 ) en dat Hy ons stede puinhope sal maak en ons land ’n wildernis. ’n Suidlander is dus deel van die oorblyfsel van hierdie volk en gee daarom ag op die waarskuwings wat volledig in DVD 2 uitgelig word. Daar is ook ander organisies en leiers wat wat waarskuwings rig tot ons volk en daarvoor dank ons elkeen. ’n Suidlander wil nie in stryd wees met enige volksgenoot nie, want “ons stryd is nie teen mekaar nie, maar teen die wêreld en die owerhede en die bose magte in die lug.”

As leier van die Suidlanders vra ek dat ons medevolksgenote ons nie sal oordeel op ‘foute’ van die verlede of van die toekoms nie. (Selfs in die Boereoorlog is baie ‘foute’ gemaak, maar deur die Genade het ’n handjievol drie jaar lank teen die magtigste land ter wêreld staande gebly, en vrees die wêreld ons tot vandag toe nog). Oordeel ons volgens die opregtheid van ons harte om in die bres te tree vir God, Volk en Vaderland. ( “ No one is perfect, only perfect intention ”).

’`n Suidlander glo ook dat God ons nie vir altyd verstoot nie, maar ons weer sal herstel in die mooi land wat Hy vir ons Vaders by Bloedrivier beloof het (Jes. 61, Jes. 60, Jes. 57:14-21, Jes. 40:1-11, Jes. 12:1-6, Ps. 118, 1 Joh. 5:4, 2 Kor. 6:2, Hand. 13:35-41, Joh. 14:1, Habakuk 1:5 en Habakuk 3:13; daar is nog duisende ander verse.

Selfs die berugte ‘Mandela-SMS’ het ’n positiewe uitwerking gehad (2 Kron. 20:15) in dié opsig dat dat baie mense wat gedreig het om kosvoorrade aan te koop en dit nooit gedoen het nie, was kort na die berig slaggereed; en ek hoop en bid dat u steeds voorbereid is. Want selfs ’n graad 1 kind sal aan die politieke veranderinge in die afgelope paar maande kan sien dat onrus broei en onstabiliteit ons voorland is. Die Bybel sê vir ons: “vir hom wat glo, gebeur alles ten goede”. En as ek kyk na al die publisiteit wat die Suidlanders gekry het uit daardie duisende SMS’e wat die voorblaaie van byna al die koerante gehaal het, en waarmee die media gehoop het om ons boodskap belaglik te maak, dan besef ek eers hulle het hulself in die voet geskiet, want daardie berigte het gehelp dat duisende ander ook kennis geneem het van die onheil en naderende tydbom wat op Suid- Afrika wag. Ons is oorval deur navrae, en gevolglik het nog baie van ons volksgenote hulle begin voorberei. Alle eer aan God!

In Desember 2007 is ek in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat ek medepligtig sou wees aan die besit van ’n onwettige vuurwapen, en ook dat ek tjekbedrog sou gepleeg het. Die tyd wat alle dinge uitwys, sal ook uitwys dat dit ‘n gefabriseerde klag was om die Suidlanders in ’n swak lig te stel. Ek besit reeds ’n gelisensieerde vuurwapen, en sal nie so kortsigtig wees om die Suidlanderorganisie waarvoor ek letterlik alles opgeoffer het, met een onbesonne daad te vernietig nie. Die sogenaamde ‘tjekbedrog’ spruit voort uit omstandighede waaroor ek geen beheer gehad het nie. Ek het dienste gelewer waarvoor geld op my rekening inbetaal sou word, en op grond daarvan het ek in goedertrou ’n tjek vir my vragmotorlisensies uitgeskryf. Omdat my skuldenaars in gebreke gebly het om my te betaal, is my tjek toe terugverwys. En intussen is ek reeds besig met reëlings om die lisensiegeld aan die betrokke munisipaliteit
terug te betaal.

Daar is ’n gesegde wat lui: ‘Wie ’n gat vir ’n ander grawe, val self daarin… Ons lees in die boek van Ester van Haman wat ’n galg gebou sodat hy vir Mordegai kon laat hang. Maar deur die ingryping en uitredding van ons Hemelse Vader het Haman op die einde aan sy ‘eie’ galg gehang. Net so was dit ook met die Februarie 2007-inligting oor Mandela se dood. God het daardie doelbewuste disinformasie so gebruik dat dit ook vir vandag se Mordegai (sy oorblyfsel) tot voordeel strek. Daarom aanvaar ek die bietjie smaad wat ek hieroor moet verduur, en ek loof en prys die Vader vir die positiewe uitwereking wat dit op ons hele poging gehad het, nl. die bewusmaking van ons volk.

’n Suidlander kritiseer nie ’n ander volksgenoot bloot omdat daar ’n meningsverskil is nie, maar glo in die ou leuse van Suid-Afrika, nl. ‘Eendrag maak mag’. ’n Suidlander fokus op die positiewe wat ons volk kan saamsnoer om ’n hegte eenheid te vorm. (Fil. 1:27, Fil. 2:2 en 1Kor. 12:12-31). ’n Suidlander distansieer hom steeds van geweld en verbind hom om enige volksgenoot wat in nood sou verkeer in die toekoms te hulp te snel. In hierdie verband is daar baie disinformasie in omloop, maar ons doen opnuut ’n beroep op u om binne die riglyne van die wet te bly.

Ons is en bly Knegte van die Allerhoogste teen die hele wereld vry.

Suidland Groete
Gustav Müller



DVD 1,2,3 en die nuutste nommmer 4 is bekombaar by Naomi Snyman
Skakel haar asb. op 072 8737 005.

Die DVD's is R50 per DVD + R10(Pos geld)