Wednesday, August 22, 2007

22 Augustus 2007 - Verklaring

Suidlanders,

Soos jul moontlik reeds verneem het, het die Polisie Taakmag van omstreeks 06:00 Maandag, 13 Augustus 2007, op verskeie Suidlander bestuurslede toegesak regoor die land met 'n ellelange lys van items waarop beslag gelê moet word. Hierdie lyste het onder meer ingesluit wapens, ammunisie, ploftoestelle, springstof en teikenlyste (moordlyste) in 'n ondersoek vir die pleging of vermeende pleging van onder andere hoogverraad, terrorisme, sameswering tot moord, intimidasie en die oortreding van Artikel 2 van die Wet op die Bevordering van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite, Wet 33 van 2004. Van die klagstate, asook aanmerkings gemaak gedurende die beslaglegging, was dit ook duidelik weereens 'n poging om die Suidlanders te verbind met die vermeende 'Boeremag' alhoewel ons ons uitdruklik van hierdie beweging distansieer.

Tydens die beslaglegging is die bestuurslede met min tot geen respek behandel nie en is vuurwapens voortdurend op hul gerig gehou. Al die vertrekke is heeltemal omgekeer en net so gelos toe geen van hierdie items op enige van die persele gevind is nie. Dames is ook nie toegelaat om alleen kamer te verlaat nie en is oor die algemeen so grof behandel dat dié behandeling daartoe gelei het dat een dame 'n epileptiese aanval gehad het en 'n ander dame is so hewig ontstel dat sy moes gaan rus weens uitermate hoë bloeddruk. Ons vra nederig ons Hemelse Vader in gebed om hierdie dames by te staan in hul tyd van beproewing en dat hul gesondheid spoedig sal herstel.

Sekere gerugte doen die rondte dat Gustav en Suné in hegtenis geneem is, maar is hierdie gerugte ongegrond en is beide Gustav en Suné op vrye voet. Daar word mooi na hul omgesien deur mense wat ons goedgesind is en sien hul gesondheid goed daarna uit.

Een persoon teenwoordig by een van die persele is ongelukkig in besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen gevind en is hy steeds in aanhouding na sy borg aansoek uitgestel is. Hoewel ons geensins sy oortreding goedkeur of ons daarmee assossieer nie, is ons gedagtes ook by hom, sy vrou en kindjie in hierdie moeilike tyd en sluit ons hul spesiaal by ons gebede in. Ons rig ook 'n vriendelike versoek aan alle Suidlanders om ook hierdie jong gesin by hul gebede in te sluit waar die vrou en kind nou sonder 'n man en pa moet klaarkom en ook dat daar regverdig gehandel sal word met die man.

Dit het onder die bestuur se aandag gekom dat hierdie persoon se regskostes reeds etlike duisende Rande beloop en dat die gesin, ten spyte van al die gratis hulp wat goedhartig aan hul voorsien is, gebuk gaan onder die finansiële las. Die gesin is tans sonder ‘n inkomste en sal enige hulp waardeer word. Indien u u pad oopsien om hierdie gesin by te staan op welke manier ook al, kontak asseblief die bestuur by
suidlanders@gmail.com, of kan skenkings gemaak word in die volgende rekening:

Rekeninghouer: N Snyman
Bank: ABSA
Tak: Klerksdorp
Rekeningnommer: 9201258114
Tipe: Spaarrekening
Verwysing: Donasies

Namens hierdie gesin en die Suidlander bestuurslede geraak deur hierdie gebeurtenis, bedank ons graag ‘n ieder en ‘n elk vir die ondersteuning, gebede en gereelde sms’e ontvang. Ook sê ons by voorbaat dankie aan elke persoon wat sy weg oopsien om hierdie gesin by te staan in hul uur van nood.

Die bestuur herhaal egter graag ons amptelike standpunt: Suidlanders distansieer hulself van enige geweldadige optrede, asook onwettige dade, en bly te alle tye aan die regte kant van die wet. Ons is bloot mense wat bekommerd is oor die huidige situasie in ons land wat moontlik mag aanleiding gee tot 'n noodsituasie en berei onsself dienooreenkomstig voor in geval so 'n noodsituasie, as gevolg van 'n aardbewing, vloed, of iets dergeliks, sou plaasvind.

In die lig van ons amptelike standpunt wat pertinent op die DVD, asook by elke vergadering wat deur Gustav Müller gehou is, genoem word, is dit duidelik dat die aanklagte (wat onder meer insluit hoogverraad, terrorisme, sameswering tot moord en intimidasie) van alle waarheid ontbloot is en is slegs 'n poging om ons volk verder te intimideer, te diskrediteer en onderling te verdeel. Ons sal geen steen onaangeroer los ten einde ons naam in die reine te bring nie.

Ons versoek alle Suidlanders om asseblief nie paniekerig te raak nie, slegs bestuurslede word op hierdie stadium ondersoek en is daar niks gevind wat die ondersoek regverdig nie en sal daar ook nooit so iets gevind word nie in die lig van ons amptelike standpunt. Solank jy, as Suidlander, jou by die standpunt bepaal en binne die grense van die wet beweeg, hoef jy niks te vrees nie.

Groete
Die Suidlander Bestuur


Psalm 121: "Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom. My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het."